Find the right local SA accountant now!

BESIGHEID STRUKTURE

Die volgende kwessie waarna jy moet kyk, veral as jy besluit om ‘n nuwe onderneming te begin, is watter formele besigheidstruktuur jy gaan kies. (Moontlik vind jy al die teorie tot dusver effens vervelig, maar hou goeie moed - ons sal weldra by meer prettige sake uitkom!) Wanneer 'n kleinsakeonderneming begin word, is dit gebruiklik om 'n formele besigheidstruktuur te registreer, hoewel dit nie regtens vereis word nie. Daar bestaan verskeie opsies in hierdie verband.

Informele besigheidstrukture

Alleeneienaar

Wanneer jy handeldryf as 'n alleeneienaar word jou sakebelange en persoonlike belange in dieselfde mandjie gegooi en jou onderneming het dus nie 'n regsidentiteit van sy eie nie. Jy en jou eggenoot (indien julle binne gemeenskap van goedere getroud is) is gesamentlik en afsonderlik aanspreeklik vir die finansiële verpligtinge van die besigheid.

Vennootskap

Indien daar twee of meer belanghebbendes is, kan julle 'n vennootskap vorm. Vanuit 'n regsoogpunt gesien, stem die situasie baie ooreen met die van 'n alleeneienaar, omrede die finansiële sake van die vennote onlosmaaklik verbonde is aan die van die vennootskap. Elke vennoot kan gesamentlik en afsonderlik aanspreeklik gehou word om die vennootskap se finansiële verpligtinge na te kon, selfs al was hy of sy nie regstreeks daarby betrokke nie.

Die prentjee word erger: indien een van die vennote binne gemeenskap van goedere getroud is, kan sy of haar eggenoot ook die gramskap van die vennootskap se ontevrede skuldeisers op die hals haal.

'n Regsadviseur of selfs 'n goeie rekenmeester sal die onderskeie voor- en nadele van hierdie besigheidsformate aan jou kan verduidelik soos wat dit op jou persoonlike omstandighede en belastingsprofiel betrekking het

Dit is voor die hand liggend dat hierdie eenvoudige besigheidstrukture nie duur is nie om op stel nie en dat statutêre vereistes tot die minimum beperk word. Dit is nietemin belangrik om jou besigheids- en persoonlike uitgawes reeds vanaf die eerste dag uitmekaar te hou, selfs al bedryf jy 'n baie klein onderneming. As jy dit nie doen nie, sal dit vir jou moeilik wees om jou onderneming se prestasie te bepaal. Jy sal ook baie moeite hê indien SAID besluit om jou aftrekkings vir besiguitgawes noukeuriger te ondersoek.

Indien  jy van voorneme is om 'n taamlik groot onderneming op te bou, en veral as jy vennote gaan hê en personeel gaan aanstel, is dit gewoonlik beter om reeds die begin 'n formele besigheidstruktuur te registreer. Die redes hiervoor word voorts bespreek.

Formele besigheidstrukture

Sodra 'n besigheid formeel geregistreer word, neem dit 'n eie regsidentiteit aan wat afsonderlik is van die van die eienaars. Dit hou verskeie voordele in, waarvan sommige meer belangrik is as ander:

  • Die onderneming aanvaar verantwoordelikheid vir sy aanspreeklikhede en krediteure kan hulle dus nie outomaties na die eienaars wend as die besigheid versuim om te betaal nie.Hierdie voordeel gee mense ongelukkig 'n valse besef van sekuriteit. Hoewel hulle hul sakevernuf dalk nie heeltemal vertrou nie en bekommerd is dat rllc besigheid kan misluk, maak hulle die fout om te dink dat krediteure ontduik kan word deur die besigheid as ‘n BK of (Edms) Bpk te registreer. In die praktyk is hierdie gerustheid egter 'n illusie. Finansiële instellings en groothandelskrediteure wil hulle juis so ver moontlik teen finansiële verliese beskerm en dring dikwels daarop aan dat die eienaars persoonlike waarborge namens die besigheid teken.  Dit beteken dat die eienaars willekeurig gesamentlik en afsonderlik aanspreeklikheid vir die onderneming se verpligtinge aanvaar. Indien die besigheid versuim om te betaal, sal die vernaamste krediteure die eienaars persoonlik aanspreeklik hou.
     
  • 'n Meer tasbare voordeel is dat die besigheid se bates duidelik van die van die eienaars onderskei word. Dit sal transaksies vereenvoudig wanneer meer eienaars betrokke raak, of eienaars uitgekoop word wat van die besigheid wil onttrek, of die besigheid in sy geheel as 'n lopende onderneming verkoop word.
     
  • Afhangende van die omstandighede kan daar ook belastingbyvoordele wees.

Vra jou rekenmeester om jou hieroor in te lig.

Die formele besigheidstrukture wat die algemeenste gebruik word, word hier- onder bespreek.

Beslote korporasie

Die gewildste formaat vir nuwe kleinsakeondernemings staan bekend as 'n BK. Die lede van die BK is die eienaars van die besigheid en gewoonlik staan 'n besturende lid aan die hoof. Maatskappye mag nie 'n gedeelte van 'n BK besit nie en 'n BK kan ook nie 'n aandeelhouer van 'n ander onderneming wees nie. Hierdie formaat is gewild omdat dit relatief goedkoop is om op te stel en te bedryf

  • Lede se bates word heeltemal apart van die van die BK gehou en die lede geniet beperkte aanspreeklikheid. Die uitsondering sou wees wanneer daar bewys kan word dat die lede nalatig opgetree het of die bepalings van die Wet op Beslote Korporasies oortree het
     
  • Wins word teen 'n eenvormige koers belas en inkomste na belasting kan aan die lede uitgekeer word. Uitkerings was tot dusver aan 'n sekondêre belasting onderhewig wat deur die BK betaal word en nie deur die ontvanger van die uitkering nie. SAID het egter aangedui dat dit gaan verander. Na verwagting sal die sekondêre belasting wat deur die BK betaal word, vervang word deur 'n belasting wat die ontvanger van die uitkering  moet betaal
     
  • 'n BK hoef nie geouditeer te word nie. 'n Persoon met 'n rekeningkundige kwalifikasie en wat aan 'n kwalifiserende professionele instelling behoort, kan as die BK se rekeningkundige beampte optree. Hoewel koste op hierdie manier bespaar word, kan dit egter om verskeie redes nadelig wees

o    SAiD se oudlt sal strenger wees wanneer daar nie 'n geouditeerde balans- staat is nie,

o    Dei banke sal moontlik onwillig wees om ‘n  onderneming wat nie geouditeer word nie, te finansier.

o    Baie tenderaanbiedinge vir groot kontrakte vereis dat die aansoeker geouditeerde balansstaat verskaf.

Die Maatskappyewet van 2008 is in April 2009 onderteken en in die Staatskoerant gepubliseer. Dit tree in April 2010 in werking. Vanaf die datum sal dit nie meer moontlik wees om nuwe beslote korporasies te registreer nie en hulle word met ‘n vereenvoudige maatskappyformaat vervang. Beslote korporasies wat egter voor die afsnydatum geregistreer is, sal toegelaat word om vir 'n verdere tydperk van tien jaar in die ou formaat bedryf te word. Hierna sal hulle na maatskappye omgeskakel moet word

Privaat maatskappy

‘n Privaat maatskappy staan ook bekend as ‘n Eiendoms Beperk-maatskappy of (Edms) Bpk. Dit word deur die aandeelhouers besit, wat individue (ook bekend as natuurlike persone) van ander maatskappye kan wees.

  • Die besturende direkteur, wat nie noodwendig ‘n aandeelhouer is nie, staan aan die hoof van die maatskappy en doen verslag aan die direksie. Die registrasie en verdere bedryf van ‘n privaat maatskappy word deur die Maatskappyewet gereguleer.  Benewens die aanvanklike registrasiekoste (wat meer is as dié van ‘n BK) moet ‘n privaat maatskappy ook die voortgesette dienste van ‘n ouditeur betaal.  Die statutêre vereiste is ook strenger en skep ‘n bykomende administratiewe las.
     
  • Die bates van ‘n privaat maatskappy is afsonderlik van die van die aandeelhouers. Die persoonlike bates van die direkteure en aandeelhouers kan nie deur die maatskappy se krediteure opgeëis word nie, tensy daar bewys kan word dat die Maatskappyewet oortree is en as hulle borge in hul persoonlike hoedanigheid geteken het.
     
  • Wins wat deur ‘n privaat maatskappy gegenereer word, word teen ‘n eenvormige koers belas en uitkerings kan aan die aandeelhouers gemaak word. Uitkerings is aan 'n sekondêre belasting onderhewig, wat deur die maatskappy betaal word en nie deur die ontvanger van die uitkering nie. SAID het egter aangedui dat dit gaan verander.  Na verwagting sal die sekondêre belasting wat deur die maatskappy betaal word, vervang word deur ‘n belasting was die ontvanger van die uitkering moet betaal.

Ander soorte maatskappye

Ek moet ook net ter wille van volledigheid noem dat daar verskeie ander formele besigheidstrukture bestaan, soos 'n maatskappy met beperkte aanspreeklikheid, 'n maatskappy sonder winsoogmerk (ook bekend as 'n Artikel 21-maatskappy) of 'n koöperasie, In die praktyk word hierdie formate selde gebruik wanneer 'n kleinsakeonderneming gevestig word en hulle val dus buite die bestek van hierdie boek.

Die formaat wat jy vir jou maatskappy kies, hoef nie rigied te wees nie. Dis relatief maklik om die formaat te verander sodat dit tred hou met jou besigheid se groeiproses. Jy kan byvoorbeeld 'n BK na 'n (Edms) Bpk verander. Later wil jy dalk na ‘n maatskappy met beperkte aanspreeklikheid omskakel sodat jy op die aandelebeurs gelys kan word. Teen daardie tyd behoort jy reeds 'n span professionele adviseurs tot jou beskikking te he wat jou die nodige raad en leiding kan gee.

Die proses van besigheidsregistrasie

Alleeneienaars en vennootskappe hoef glad nie as besighede geregistreer te word nie. Beslote korporasies en maatskappye moet by die Kantoor vir die Registrasie van Maatskappye en Intellektuele Eiendom (CIPRO) van die Departement van Handel en Nywerheid (DTI) in Pretoria registreer.

Om 'n BK te registreer, is 'n eenvoudige proses wat jyself kan doen, maar die registrasie van 'n privaat maatskappy moet eerder deur 'n professionele persoon gedoen word. Jou prokureur of rekenmeester sal daarmee kan help. Hulle sal ‘n fooi vir hierdie diens vra, maar dit sal jou onnodige kopseer en frustrasie spaar.

Belastingvergunnings vir KMO's

SAID bied belastingvergunnings aan kwalifiserende klein en mediumgrootte ondernemings. Om hiervoor in aanmerking te kom, moet jy 'n geregistreerde besigheid bedryf (wat óf ‘n BK óf ‘n privaat maatskappy kan wees) en op die onderneming se belastingvorrn aansoek doen om status as 'n kleinbesigheidskorporasie. Die vergunnings wissel van een belastingjaar na die volgende, maar kan aansienlik wees (sien hieronder). Jy moet dit beslis met jou rekenmeester bespreek.

Belastingaansporings vir kleinsakeondernemings

Kwalifiserende ondernemings kan byvoorbeeld die volgende vergunnings geniet:

  •  Firma met verkope tot R14 miljoen kwalifiseer.
     
  • Wins tot en met R54 200 is vrygestel van inkomstebelasting.
     
  • Wins bo R54 200 maar minder as R300 000 word teen 10% belas.
     
  • Wins bo R300 000 word belas teen R24 580 plus 28% van die bedrag bo R300 000.
     
  • Klein items tot en met 'n waarde van R5 000 wat vir besigheidsdoeleindes gekoop is, kan ten volle tydens die jaar van aankope gedepresieer word.
     
  • Eenmalige verligting van kapitaalwinsbelasting word toegestaan vir bedrae tot en met R750 000.

Belastingbesparings vir lede of aandeelhouers

Lede van BKs en aandeelhouers in maatskappye kan dividende verklaar, wat tans aan ‘n uitkeringsbelasting van 10% onderhewig is. Hierdie belasting is betaalbaar deur die BK of maatskappy, maar is belastingvry in die hande van die ontvangers. SAID het aangedui dat dit van voorneme is om hierdie belasting in die toekoms te krap en eerder die ontvangers te belas.

Omsetbelasting

In 'n poging om kleinsakeondernemings te help om belasting te betaal, het SAID 'n nuwe vorm van belasting ingestel, naamlik omsetbelasting (turnover tax).Dit vervang BTW, inkomstebelasting, voorlopige belasting, kapitaalwins- en sekondêre belasting op maatskappye.  Kwalifiserende entrepreneurs wat daarvoor geregistreer is, hoef nie meer die ander soorte belasting te betaal nie. Ondernemings met 'n omset van tot R1 miljoen per jaar kwalifiseer, mits ander voorwaardes ook  nagekom word. SAID se webwerf (www.sars.gov.za) het al die besonderhede.

Die belastingkoerse is uiters redelik en dit kan baie aanloklik klink om nie meer soveel belastingvorms hoef in te vul nie. Voordat jy egter vir omsetbelasting  registreer, moet jy ook in gedagte hou dat jy nie BTW-insetbelasting sal kan terugeis vir die jaar waarin jou aansoek toegestaan word nie.

Hierdie aspek maak dit vir die meeste handelsondernemings onekonomies om aan die skema deel te neem. Deelname is gelukkig vrywillig en dit staan selfs mikrobesighede vry om hul belastingvorm en betalings steeds op die “ou” manie te hanteer