Find the right local SA accountant now!

SARS AS ‘N KREDITEUR VAN INDIVIDUE EN BESIGHEDE

Artikel deur ProkureurNanika Prinsloo

Baie mense is onder die indruk dat SARS spesiale behandeling kry as ‘n krediteur.

Dit is nie waar nie.

SARS is ‘n normale krediteur soos enige ander.  In ‘n insolvensie (sekwestrasie/bankrotskap/boedeloorgawe) is SARS ‘n normale krediteur soos die ander.  SARS word in ‘n insolvensie slegs betaal nadat voorkeurskuldeisers betaal is.  Voorkeurskuldeisers is enige skuldeiser wat ‘n pand, verband of retensiereg het.  Die bank wat ‘n verbandhouer is sal dus betaal word voordat SARS betaal word.  Trouens, SARS word eers betaal nadat die kurator se fooie, en indien daar enige sulke fooie nog is, prokureursfooie betaal is.  Enige gelde wat SARS nie betaal word nie, word afgeskryf.

Wanneer die skuldenaar ‘n Maatskappy, Beslote Korporasie of Trust is (hierna genoem “entiteit”) is SARS ‘n belangrike skuldeiser om van kennis te neem.  Indien die entiteit homself nie gaan likwideer nie, gaan die verpligting ten opsigte van SARS outomaties oor op die direkteur(e) van die Maatskappy, of die lid(lede) van die Beslote Korporasie of die trustees van ‘n trust. 

Die reel bestaan dat wanneer ‘n direkteur van ‘n Maatskappy of lid van ‘n Beslote Korporasie of Trustee van Trust nie borg geteken het vir die skuld van die entiteit nie, dan kan die skuldeisers van so ‘n entiteit nie die geld verhaal van die betrokke individu(e) nie.  Maar SARS is anders:  waar die entiteit nie likwideer nie is dit nie nodig dat daar borg geteken moes gewees het nie, die skuld gaan outomaties oor.  Dit is daarom belangrik om, indien die entiteit nie die skuld kan betaal nie, dat dit homself likwideer om van die skuld ontslae te raak sodat die verpligting nie oorgaan op die relevante individue nie.

As die entiteit nie likwideer nie, gaan die betrokke direkteur(e)/lid(lede) of trustees persoonlik verantwoordelik wees vir die skuld.  Indien die entiteit likwideer, verdwyn die SARS skuld en gaan die aanspreeklikheid nie oor op die individue nie.

Indien die skuld oorgegaan het om die betrokke  individu, of indien die individue in sy persoonlike hoedanigheid aan SARS geld skuld, kan SARS net soos enige ander krediteur dagvaarding uitreik, vonnis neem en lasbrief vir eksekusie uitreik om beslag te le op roerende bates.  SARS kan ook, net soos enige ander kredteur, ‘n besoldigingsbeslagbevel teen jou salaris kry of op jou huis beslag le.

Wat SARS wel anders as ander krediteure maak is dat, waar die skuldenaar ‘n individu is, kan SARS kriminele stappe neem, want die Inkomstebelastingwet is so geskryf dat dit SARS die mag gee om dit te kan doen.  SARS neem  nie maklik kriminele stappe teen die man in die straat nie, want tien teen een is hulle bewus daarvan dat om die persoon toe te sluit nie sal help om die geld te vorder nie. SARS is eerder daarop gerig om geld te vorder en help mense eerder as om hulle toe te sluit. Dit is gewoonlik waar SARS vermoed dat daar verdoeseling is van inkomste of bedrog dat kriminele stappe geneem word.  Neem egter baie goed kennis dat ons nie in diens is van SARS of optree as agente van SARS nie, dus kan ons u slegs van ons ondervinding met SARS vertel en kan nie waarborg dat SARS nie sal kriminele stappe neem nie.  Maar ons kan u wel se dat in ons ondervinding tot dusver met al die vele mense wat ons reeds gehelp het, dat SARS nog nooit teen enige van ons kliente opgetree het nie, selfs al was die SARS skuld miljoene rande..

Daar is spesiale reelings wat met SARS gemaak kan word om skuld te betaal.  Onder andere kan reelings getref word en ‘n Artikel 91 skikking kan gemaak word.  Sien SARS se website om meer daaroor te lees.

Die sleutel om te onthou is dit:  SARS hou nie spesiale magte net omdat dit SARS is nie, maar SARS het die mag om kriminele stappe te neem wat ander skuldeisers nie het nie.  Maak liewer reelings met SARS as om hulle te vermy.  Behandel SARS gerus soos ‘n gewone skuldeiser.  Soms verkies mense om skuldeisers te ignoreer en hoop die skuld gaan weg, maar ons sal nie aanbeveel dat u dit met SARS doen nie!  Selfs al kan u hul nie betaal nie, praat met hulle. SARS is meer behulpsaam as wat u dink.

Indien u ‘n besigheid besit en u wil ophou om dit te bestuur, maak seker dat u die laaste belastingopgawe indien en laat SARS weet dat die besigheid gaan ophou besigheid doen.  Al is u laaste belastingopgawe ‘n zero opgawe, handig dit net in.  As u belastingopgawes agterstallig is, handig dit in so gou as moontlik, selfs as beteken dit dat u boetes en rentes gaan betaal.

Hierdie is nie ‘n advertensie vir SARS nie en ons is nie ook agente vir SARS nie, maar uit ondervinding is ons bewus daarvan dat mense bang is vir SARS en dink dat SARS meer regte het as ander skuldeisers. Hulle is nie en het nie.

Wat ook spesiale melding verdien is dat die tipe geld aan SARS nie ‘n verskil maak nie:  of dit BTW of werknemersbelasting of persoonlike inkomste belasting is, dit maak nie saak nie.    

Alhoewel ons nie namens SARS kan praat of voorspel wat hul optrede gaan wees in die toekoms nie, kan ons u se dat in die verlede SARS al ons kliente nog altyd billik behandel het en oop was vir onerhandelinge.  In insolvensie aansoeke het SARS doodeenvoudig die skuld afgeskryf en het nie eers eise bewys teen enige van die insolvente boedels nie.  Ons hoop en glo dat dit so sal aanhou, wat SARS dus ‘n skuldeiser maak wat benader kan word.  Trouens, ek is van mening dat dit makliker is om met SARS te onderhandel as met ‘n bank.

Ons vertrou dat hierdie artikel u help om u vrees vir SARS te verloor.

 

This article written by Nanika Prinsloo of Prinsloo and Associates Attorneys.

Cell:  072 8558 106

Website:  www.empowerlaw.co.za